Khoikhoi

Khoikhoi

Totale bevolking:
Belangrike bevolkings  in: Suid-Afrika
Taal: Afrikaans, Khoikhoi
Geloofsoortuiging: Christendom, Tradisionele gelowe
Verwante etniese groepe: Boesman, Griekwas, Namas

Die Khoikhoi (die regte mense of mense onder mense) of Khoi is 'n historiese onderdeel van die Khoisan etniese groep van suid-westelike Afrika wat nou verwant is aan die Boesmans. Khoikhoi word soms KhoeKhoe gespel. Die Khoikhoi is tevore Hottentotte genoem maar die term word nou as neerhalend beskou. Ten tye van die aankoms van Europese setlaars in 1652 het die Khoikhoi reeds vir ongeveer 30 000 jaar in Suider-Afrika gewoon. Die naam "Hottentot" is waarskynlik deur die Nederlanders aan hulle gegee weens die baie klikgeluide (suigklanke) in hulle taal, terwyl "Khoikhoi" ("manne van manne") die benaming is wat hulle hulleself genoem het.

Die meeste geelbruin inheemse bewoners van die Kaap het in die 17de en 18de eeu gesamentlik bekend gestaan as “Hottentotte”, hoewel hulle in kleiner groepe of stamme, elk met 'n kenmerkende naam, verdeel was. Die algemene benaming Hottentot het reeds in Jan Van Riebeeck se tyd dokumentasiestatus verwerf. Eers in die 19de eeu is die benaming “mense van kleur” as alternatief gebruik deur o.a. die Britse goewerneur Richard Bourke.

Weens die negatiewe konnotasies wat aan die woord Hottentot bly kleef het, het navorsers veral in die tweede helfte van die 20ste eeu 'n meer eietaalse etnoniem, “Khoekhoen”, in wisselende spelling begin gebruik. Hierdie dubbelstammige naam beteken letterlik “mens van mense”. Volgens G.S. Pienaar, 'n kenner van die inheemse tale, is die hedendaagse skryfwyse “Khoi-khoi” misplaas en in stryd met aanvaarde ortografie. Die korrekte stamwoord is Khoe.

Die term “Khoesan” (Khoisan) is 'n nuutskepping van die 20ste eeu. Dit poog om die gemeenskaplike kenmerke van die Boesmans en Khoekhoen te omvat, maar daar is ook geldige redes om die unieke identiteit van albei groepe afsonderlik te erken. Anders as die Khoekhoen het die Boesmans slegs in klein gesinsgroepies geleef, sonder 'n gemeenskaplike gesagstruktuur soos 'n opperhoof of stamkaptein. Hulle was klein van postuur en het 'n nomadiese leefwyse gevoer om die jagveld en beskikbare veldkosse ten beste te benut.

Die Khoekhoen het tradisioneel in familiegroepe gewoon in matjieshutte bestaande uit raamwerke van houtlatte wat oorgetrek is met gevlegte matjies. Dié boumateriaal is op pakbeeste van een kampterrein na 'n ander vervoer. Skeletoorblyfsels van gedomestikeerde (mak gemaakte) skape wat sowat 2 000 jaar oud is en in Laat Steentydafsettings in rotsskuilings aan die Kaapse kus gevind is, word verbind met vroeë Khoekhoenjagters. Dié jagters was toe reeds nomadiese herders van kleinvee en het mettertyd ook beeste bekom, waarskynlik van Bantusprekende Ystertydboere. Khoekhoengroepe was tot en met die aanbreek van die koloniale tyd betreklik welvarende veeboere. 'n Khoekhoengemeenskap wat vandag nog 'n tradisionele pastorale lewenswyse handhaaf, is die seminomadiese Nama van die Richtersveld.

'n Akwatint uit 1805: Korah-Khoikhoi besig om hulle hutte af te breek om na nuwe weivelde te trek.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in