Kunsstof

Onder kunsstowwe word verstaan materiale soos plastiek, nylon, kunshars en poliëster waarvan die molekules kettings of netwerke (polimere) vorm wanneer klein chemiese boustene (monomere) met mekaar reageer. Ander stowwe soos sement en legerings word ook kunsmatig vervaardig, maar word nie as kunsstowwe beskou nie. Afhangende van watter monomeer of kombinasie van monomere gebruik word, kan 'n enorme aantal verskillende kunsstowwe ontstaan.

Die eienskappe daarvan word verder beïnvloed deur die byvoeging van chemikalieë (sagmakers, stabiliseerders) en die verskillende omstandighede waarin die monomere met mekaar reageer (temperatuur, druk, katalisators). Daar is basies vier soorte kunsstowwe, naamlik termoplastieke, wat by verwarming smelt; termo-verhardendes, wat by verhitting nie smelt nie; elastomere (sintetiese rubbers), wat baie rek- en vervormbaar is; en sintetiese vesels, wat hulle goed tot die vervaardiging van kledingstowwe leen.

Plastiek word maklik verwerk aangesien dit in 'n gesmelte toestand gegiet of gerek of in vaste vorm verhit en saamgepers kan word. Die Termoverhardendes moet reeds voor die reaksie van die monomere gevorm wees aangesien geen vormverandering na die reaksie meer moontlik is nie. Kunsstowwe is vir 'n enorme aantal gebruike geskik want dit kan tot allerlei ingewikkelde vorms verwerk word en dit beskik oor unieke meganiese eienskappe (treksterkte, elastisiteit, skokvastheid, ensovoorts). Dit is boonop teen korrosie en die meeste chemikalieë bestand. In vergelyking met die steen-, brons- en ystertydperke daar van die 20e eeu met reg as die plastiektydperk gepraat word.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy