Leadenhall Market

Leadenhall Market


City of London



Sentrale binneplein




Argitek:
Horace Jones (1819–1887)





Hoofingang:
Gracechurch Street



Leadenhall Market is 'n historiese oordakte markplein in Londen wat nog tot in die 1960's as groothandelsmark vir onder meer vleis en seekos gedien het. Toe die bekende argitektuurkritikus Ian Nairn (1930–1983) in 1966 'n besoek aan die mark gebring het, het hy dit nog as "a riot of fish and fowl" beskryf.[1]

Vanaf die laat 20ste eeu is die fokus verskuif na luukse winkels, kroeë en restaurante wat in die behoeftes van goedbetaalde werknemers in die historiese middestad en finansiële sakekern van Londen, die City of London, voorsien.

'n Nagaansig van die sentrale oktagon-dak

Argitektonies het Leadenhall Market sy eweknieë in sekere opsigte in die groot markgeboue van Noord-Engelse stede, al is dit geen vrystaande gebou nie, maar eerder 'n reeks ommuurde straatjies wat van glas-en-yster-dakke voorsien is en perfek inpas by die omliggende geboue soos die oordakte winkelarkades van Cardiff en Leeds.[2] Leadenhall Market se boukuns kulmineer in die sentrale oktagon-dakontwerp waar alle wandelgange in die kompleks saamloop.

Ná omvattende restourasiewerk, wat tussen 1990 en 1991 in opdrag van die City of London Corporation gedoen is, is Leadenhall Market in sy oorspronklike Victoriaanse glorie herstel - met 'n geskikte kleurskema en die rekonstruksie van historiese winkelfasades. Richard Rogers se moderne Lloyd's Building, wat by die noordoostelike hoek van die markkompleks aansluit, is deur die 19de eeuse yster-en-glas-boukuns geïnspireer en aksentueer dit.[3]

  1. Ian Nairn: Nairn's London. Herdrukte uitgawe van 1966. Penguin Classics 2014
  2. Nicholas Kenyon (red.): The City of London. A Companion Guide. London: Thames & Hudson 2012, bl. 333
  3. Nicholas Kenyon (2012), bl. 333

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy