Letterkunde

Merton-kollege se biblioteek.

Letterkunde of literatuur (Latyn "Litterae" mv. van "letter") is geskrewe taalkunswerke wat op grond van gemeenskaplike taal of verwantskap, kultuur, periode, styl, lewensbeskouing of ander faktore met mekaar saamhang. Die estetiese waarde van letterkunde lê in die skoonheid van taalgebruik en/of die gevoel wat dit by die leser aanwakker.[1][2] Literatuur word onderskei van lektuur of leesstof, wat alle geskrewe werk insluit, deur die estetiese universele waarde wat dit besit.

'n Letterkundige bestudeer tekste wat tot die literatuur gereken word, dus die fenomeen van literatuur in die breë sin. Iemand wat as letterkundige werksaam is, word ook 'n literator genoem, wat ook breedweg die betekenis kan dra van iemand wat homself algeheel aan die lettere wy. Ook kan 'n toegewyde skrywer, dus nie 'n ondersoeker nie maar 'n beoefenaar van die letterkunde, bekend staan as 'n letterkundige of literator.[3]

Literatuur kan algemeen opgedeel word in twee tegnieke, prosa en poësie en twee vorme, fiksie en nie-fiksie. Nie-fiksie as kategorie sluit onder andere polemiese werke, biografieë en nadenkende essays in terwyl verbeeldingswerke tekste insluit soos fiksie, drama of poësie). Literatuur in poësie benadruk die estetiese en ritmiese kwaliteite van taal – soos klank, simboliek, en metrum – om betekenisse op te roep addisioneel tot, of in stede van die oorspronklike betekenis, terwyl literatuur in prosa-formaat gewone grammatikale strukture en die natuurlike vloei van spraak gebruik. Letterkunde kan ook geklassifiseer word volgens historiese tydperke, genres en politieke invloede. Terwyl die konsep van genre oor die eeue heen verbreed het, bestaan 'n genre oor die algemeen uit kunswerke wat binne 'n spesifieke sentrale tema val; voorbeelde van genre sluit onder meer die ridderroman, raaiselroman, misdaadfiksie, fantasie, hygliteratuur en avontuurroman in.

Vername historiese tydperkte in die Nederlandse letterkunde, sluit in die Middeleeue, Laatmiddeleeue, die Renaissance, die Frans-klassisisme en barok, die 18de-eeuse verligting, die oorgangsfase, die romantiek van die vroeg 19de eeu, die later 19de-eeuse realisme en 20ste-eeuse Modernistiese en Postmodernistiese tydperke.[4] Belangrike intellektuele bewegings wat die literatuurstudie beïnvloed het sluit in feminisme, postkolonialisme, psigoanalise, poststrukturalisme, postmodernisme, romantiek en Marxisme.

  1. Odendaal, F.F.; Gouws, R.H., eds. (2009), Handwoordeboek van die Afrikaanse taal, Pinelands: Pearson, ISBN 978-1-77025-665-1 
  2. Botha, W.F.(Dr), ed. (2009), Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Stellenbosch: Buro van die WAT, archived from the original on 28 Augustus 2013, https://web.archive.org/web/20130828174708/http://www.woordeboek.co.za/, besoek op 28 Oktober 2013 
  3. Van Gorp, H.; Ghesquiere, R. (1998), Lexicon van literaire termen, Groningen: Martinus Nijhoff, ISBN ISBN 9789001704957 
  4. [[[:nl:Nederlandse literatuur]] Nederlandse literatuur], nl:Nederlandse literatuur, besoek op 23 Oktober 2013 

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in