Lockheed Hudson

Lockheed Hudson
Lockheed A-29 Hudson
Tipe Bomwerper, patrollie, transport
Vervaardiger Lockheed Corporation
Ontwerp deur Clarence Johnson
Nooiensvlug 10 Desember 1938
Bekendstelling 1939
Status Uit diens onttrek
Hoofgebruikers Britse Lugmag
Koninklike Kanadese Lugmag
Koninklike Australiese Lugmag
United States Army Air Forces
Vervaardig 1938 - 1943
Aantal gebou 2 941
Ontwikkel van Lockheed Model 14 Super Electra

Die Lockheed Hudson is 'n Amerikaansvervaardigde ligte bomwerper wat hoofsaaklik deur die Britse Lugmag tydens die Tweede Wêreldoorlog gebruik is.

In 1938 het die Britse owerhede 'n versoek vir kwotasies uitgestuur; hulle het 'n behoefte gehad vir 'n maritieme patrollievliegtuig met 'n lang togafstand en 'n behoefte vir navigasieopleidingsvliegtuie. Lockheed het hulle 'n militêre weergawe van hul bestaande Lockheed Model 14 Super Electra passasiersvliegtuig aangebied. Die oorspronklike Lockheed Model 10 was 'n tiensitplekpassasiersvliegtuig wat in Februarie 1934 in diens gestel is. Die model is verbeter na die Super Electra wat twaalf passasiers kon vervoer en in Julie 1937 in diens gestel is. In 1938 het Howard Hughes sy om-die-wêreldrekord in 'n Super Electra opgestel.

In Junie 1938 het die Britse Aankoopkommissaris 'n bestelling vir 200 Hudson's geplaas wat teen die einde van Desember 1939 afgelewer moes wees. Later is die bestelling met 50 eenhede verhoog op voorwaarde dat die afleweringsdatum onveranderd bly.

Die Locheed Hudson is 'n monovlerkvliegtuig, ten volle uit metaal gebou en 'n ovaalvormige rompprofiel. Die vlerke is toegerus met Fowler-klappe om sy vermoë oor korter afstande tydens opstyg en landing te verbeter. Die neus is deursigtig vir beter visie vir die bombardier. Die bemanning bestaan gewoonlik uit 'n vlieënier, navigator, bombardier, radio-operateur en skutter. Dit beskik oor 'n bomvrag van 454 kg en is toegerus met tot sewe masjiengewere in die neus en op die rug.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy