Maori-mitologie

Ses belangrike gode (atua) wat deur godestokkies van hout voorgestel word, van links: Tūmatauenga, Tāwhirimātea, Tāne Mahuta, Tangaroa, Rongo-mā-Tāne en Haumia-tiketike.

Maori-mitologie en Maori-tradisies is twee groot kategorieë waarin die mondelinge tradisies van Nieu-Seeland se Maori's verdeel kan word. Maori-mites is fantasieverhale oor die oorsprong van die waarneembare wêreld vir die pro-Europese Maori's, en dit behels dikwels gode en halfgode. Maori-tradisies bevat eerder volkslegendes, wat dikwels gaan oor historiese of halfhistoriese voorvaders. Die twee kategorieë smelt saam in whakapapa om die algehele oorsprong van die Maori's te verduidelik, asook hulle verbintenisse met die wêreld waarin hulle woon.

Die Maori's het nog nie 'n skryfstelsel ontwerp teen die tyd dat hulle in 1769 kontak met die Europeërs gemaak het nie,[1] en hulle het dus geen manier gehad om hulle geskiedenis, tradisies of mitologie aan te teken nie. Hulle het dit mondelings van geslag tot geslag oorvertel. Die drie uitdrukkingsvorme in die Maori- en Polinesiese kultuur is genealogiese voordrag, gedigte en vertellende prosa.[2]

Die rituele, gelowe en algemene wêreldsiening van die Maori's is geskoei op 'n uitgebreide mitologie wat oorgeërf is van 'n Polinesiese tuisland met die naam Hawaiki en vir hulle nuwe blyplek aangepas en ontwikkel is.[2] Benewens verskillende Polinesiese kulture wat verskillende weergawes van 'n sekere tradisie vertel, sal dieselfde storie oor 'n karakter, gebeurtenis of voorwerp baie verskillende variasies hê by elke individu wat dit oorvertel. Dit beteken daar is nooit 'n vaste of "korrekte" weergawe van 'n spesifieke verhaal nie.

  1. Puketapu, Ihakara Porutu (1966). "Creating a Written Language". In McLintock, A. H. (red.). Maori Language (in Engels). Wellington: Government Printer. p. 448. Besoek op 11 Junie 2020.
  2. 2,0 2,1 Biggs, Bruce Grandison (1966). "Myths and Traditions". In McLintock, A. H. (red.). Maori Myths and Traditions (in Engels). Wellington: Government Printer. p. 448. Besoek op 11 Junie 2020.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy