Narrowboat

Twee narrowboats lê vasgemeer by Northwick Marina in Worcester
Narrowboats op die Regent's Canal in Londen
Die stoomgedrewe narrowboat The President in 1992 in Birmingham
Vir gesinne, wat in die vervoerbedryf op kanale werksaam was, was hul narrowboat ook die permanente woonplek
Ellesmere Port Museum
Boatmen's children, die kinders van booteienaars in die vervoerbedryf, het op spesiale skoolbote skoolgegaan. Die foto is gedurende die Tweede Wêreldoorlog in 1944 in Hayes, Middlesex op die Grand Union Canal geneem

'n Narrowboat is 'n unieke en ikoniese tipe kanaalboot wat vir die kanaalnetwerk van die Verenigde Koninkryk ontwerp en aan die netwerk se nou sluise aangepas is. Die Britse kanaalnetwerk is oorspronklik gedurende die nywerheidsomwenteling vir die landswye vervoer van goedere ontwerp, maar het sy ekonomiese belangrikheid met die koms van spoorweë algaande ingeboet. Langafstandvervoer van massavrag is grotendeels gedurende die 1970's gestaak, en net enkele bote het sedertdien nog vrag vervoer. Baie narrowboats is vervolgens (vanaf die middel van die 1960's) omgebou tot plesierbote vir riviervaartvakansies. Derhalwe is die meeste Victoriaanse sluise in die Verenigde Koninkryk steeds in bedryf. Die enjins van narrowboats is ontwerp vir 'n maksimumsnelheid van sowat vier myl per uur in kalm water (die gewone snelheid is drie myl per uur). Bote is om hierdie en ander redes nie geskik vir vaarte langs die kus of op die oop see nie.

Om in die nou sluise in te pas, mag 'n boot nie breër as 2,13 m (7 voet) wees nie - die meeste narrowboats is minder as 2,08 m (6 voet) breed. Die maksimumlengte is 21,95 m (72 voet). Langer of breër bote is nie geskik vir die grootste deel van die Britse kanaalnetwerk nie. Sommige sluise is selfs korter as 21,95 m (72 voet) sodat die aanbevole maksimumlengte van 'n boot vir navigasie oor die hele netwerk tot 17,37 m (57 voet) beperk is.

Ondanks die beperkte ruimte is daar 'n groot verskeidenheid bote beskikbaar wat deur bootbouers as vakansiebote herontwerp is. Om verwarming te vergemaklik, gee eienaars dikwels die voorkeur aan 'n oopplanontwerp. Bote kan gekoop of gehuur word. Vir jongmense is narrowboats dikwels 'n bekostigbare alternatief tot konvensionele huisvesting - soos in Londen waar daar na raming reeds meer as 100 000 narrowboats op die hoofstad se kanaalnetwerk met 'n lengte van 100 myl in bedryf is.[1][2]

Die behuisingskrisis in Engeland se suidooste raak intussen ook die kanaalnetwerke - permanente vasmeerplekke is skaars, en jaarlikse huurkoste kan in Londen meer as £20 000 beloop - meer as twee keer so veel as in die res van die land. Narrowboats met 'n permanente vasmeerplek in gewilde plekke soos Little Venice op die Regentskanaal word vir £160 000 of meer verkoop - maar sou net £50 000 werd gewees het as hulle op ander plekke geleë was. Vir 'n bootlisensie moet jaarliks meer as £1 000 aan waterwegowerhede betaal word soos Canal & River Trust of die Environment Agency (in wie se bevoegheid riviere soos die Teems val). Vir kanale in besit van ander owerhede of bestuursliggame soos die Avon Navigation Trust (wat lisensies vir die Avonrivier uitreik) of die National Trust moet besondere lisensiegelde betaal word.[3]

  1. Whilton Marina: The Secret of Living Cheaply in London. Besoek op 7 September 2020
  2. BBC Worklife, 5 Desember 2016: Why young Londoners are moving to houseboats. Besoek op 7 September 2020
  3. Jim Batty: Narrowboat Life: Discover Life Afloat on the Inland Waterways. London: Adlard Coles / Bloomsbury Publishing 2019, bl. 178

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy