Die Olimpiese Winterspele 1924 (Frans: Les Jeux olympiques d'hiver de 1924), amptelik bekend as die Iste Olimpiese Winterspele, is tussen 25 Januarie en 5 Februarie 1924 in Chamonix-Mont-Blanc, Frankryk, aangebied. In 1921 stem die Internasionale Olimpiese Komitee in om 'n Internasionale Wintersportweek (Semaine des Sports d'Hiver) in 1924, dieselfde jaar as die Somerspele in Parys te hou.[2] Hierdie sportweek vind in Chamonix-Mont-Blanc, aan die voet van die Mont Blanc plaas, en was 'n reuse sukses. Daar word besluit dat dit voortaan elke vier jaar losstaande van die Somerspele aangebied sal word. Daarmee word die sportweek die Iste Olimpiese Winterspele.