Oosters-Ortodokse Kerk

Die Ortodokse Kerk, amptelik die Ortodoks-Katolieke Kerk[1][2][3] en algemeen bekend as die Oosters-Ortodokse Kerk, is die tweede grootste Christelike denominasie in die wêreld, met ’n geskatte 300 miljoen aanhangers hoofsaaklik in Belarus, Bulgarye, Siprus, Georgië, Griekeland, Masedonië, Moldowa, Montenegro, Roemenië, Rusland, Serwië en die Oekraïne, lande waarin die meeste Christene Oosters-Ortodoks is. Die Kerk beskou homself as die "Een, Heilige, Katolieke en Apostoliese Kerk" wat 2 000 jaar gelede deur Jesus Christus en sy dissipels gestig is.

Die Ortodokse Kerk bestaan uit verskeie outokefale kerkliggame (elk met ’n eie hoof) wat geografies en nasionaal verskil, maar teologies ooreenstem. Elke outokefale liggaam, wat dikwels maar nie altyd nie tot ’n nasie beperk is, word gelei deur ’n sinode van biskoppe en is administratief selfregerend.

Die Ortodokse Kerk kan sy ontwikkeling terugherlei deur die Bisantynse en die Romeinse Ryk na die vroegste kerk wat deur Paulus en die ander dissipels gestig is. Dit beoefen wat dit glo die oorspronklike, antieke tradisies is en glo in groei sonder verandering.

Die doel van Ortodokse Christene van hul doop af is om deur hul hele lewe nader aan God te groei. Dié proses word "teose" of "vergoddeliking" genoem en is ’n spirituele pelgrimstog waarin elke mens daarna streef om deur Jesus Christus heiliger en meer "soos Christus" te word.[4]

Die Bybelse teks wat deur die Ortodokse Kerk gebruik word, sluit in die Septuagint (die antieke Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel) en die Nuwe Testament. Dit sluit in die deuterokanonieke boeke (boeke van die Ou Testament wat nie deel is van die Hebreeuse Bybel nie) wat gewoonlik deur die Protestante verwerp word en ’n klein aantal ander boeke wat nie deel is van die Westerse kanonieke boeke nie. Ortodokse Christene gebruik die woord "Anagignoskomena" (’n Griekse woord wat "leesbaar" of "leeswaardig" beteken) vir die tien boeke wat hulle aanvaar maar nie deel is van die Protestantse Ou Testament van 39 boeke nie. Hulle word beskou as eerbiedwaardig, maar nie op dieselfde vlak as die Hebreeuse kanonieke boeke nie.[5]

Ortodokse Christene glo die Skrif is deur die Heilige Gees aan die menslike skrywers daarvan geopenbaar. Die Skrif is egter nie die bron van die kerk se tradisies nie, maar eerder die teenoorgestelde: Die Bybelse teks het uit die kerktradisies ontstaan.

Ikone versier die mure van Ortodokse kerke en hagiografieë (die beskrywings van heiliges se lewe) bedek dikwels die hele binnekant van die kerke. Die meeste Ortodokse kerke het ’n area wat opsygesit word vir gebede deur gesinne met ikone van Christus, die Maagd Maria en die heiliges gewoonlik aan die oostemure.

  1. Die Ortodokse Kerk beskou homself as beide ortodoks en katoliek. Vroeër het die Kerk na homself verwys as die "Katolieke Kerk". Tans word die naam "Ortodokse Kerk" verkies, moontlik om verwarring met die Rooms-Katolieke Kerk te voorkom. In amptelike kerkdokumente word na die Kerk verwys as die "Ortodoks-Katolieke Kerk".
  2. The encyclopedia of Christianity ISBN 978-90-04-12654-1
  3. The Confession of the Orthodox Patriarch Dositheus of Jerusalem ISBN 978-0-8042-0526-9
  4. "http://www.goarch.org/ourfaith/ourfaith7114"; Deification". Cross, F. L., ed. The Oxford dictionary of the Christian church. New York: Oxford University Press. 2005
  5. Pomazansky, Michael, Orthodox Dogmatic Theology, pp. 33-34

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in