Piramide

Die Egiptiese piramides van Giza.
Die Walter-piramide in Long Beach, Kalifornië.
Hierdie artikel handel oor piramides in die algemeen. Vir die piramides in Egipte, sien Egiptiese piramide.

’n Piramide (van die Griekse πυραμίς, piramis[1]) is ’n struktuur met die vorm van ’n piramide; dus met ’n paar plat vlakke wat met ’n punt na bo loop. Die basis kan drie-, vier- of meerhoekig wees. In die boukuns word onder die term piramides verstaan monumente wat 'n ooreenkoms toon met die gelyknamige meetkundige figuur. Die term word byna uitsluitlik toegepas op bouwerke uit Ou Egipte en uit pre-Columbiaanse Sentraal-Amerika. Vergelykbare monumente soos die ziggoerats van Mesopotamië en sommige Hindoe-tempels word nie piramides genoem nie.

’n Piramide se ontwerp, met die grootste gewig naby die grond, beteken daar is minder materiaal bo wat ’n druk uitoefen. Dié verspreiding van gewig het vroeëre beskawings in staat gestel om stewige monumente te bou.

Baie beskawings dwarsoor die wêreld het piramides gebou. Die Rooi Piramide by Dahsjoer en die Groot Piramide van Giza, albei in Egipte, was duisende jare lank die grootste mensgemaakte strukture op aarde. Laasgenoemde, die graftome van farao Cheops, was een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld, en is die enigste een wat nog bestaan. Dit is hoofsaaklik van kalksteen gebou (met groot, rooi granietblokke in sommige kamers) en word as ’n argitektoniese meesterstuk beskou. Dit bevat sowat 1,3 miljoen blokke van 2,5 tot 15 ton. Dit was oorspronklik 146,5 m hoog. Dit is die hoogste Egiptiese piramide.

Die grootste piramide wat volume betref, is die Groot Piramide van Cholula in die Mexikaanse staat Puebla.

  1. πυραμίς, Henry George Liddell, Robert Scott, A Greek-English Lexicon, on Perseus Digital Library

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy