In fisika en chemie verwys 'n plasma na 'n geïoniseerde gas. Dit word as 'n afsonderlike toestand van materie as 'n gas beskou. Ionisasie verwys na die teenwoordigheid van vrye elektrone wat nie aan 'n atoom of molekuul gebind is nie. Die vrye elektriese ladings maak 'n plasma elektries geleidend en daarom reageer dit sterk in die teenwoordigheid van elektromagnetiese velde. Plasmas word tipies gevorm deur 'n gas sodanig te verhit dat die elektrone van die atome gestroop word. Daar word gereken dat meer as 99% van die sigbare materie in die hemelruim in 'n plasma-toestand bestaan. Die begrip plasma is deur die fisikus, Irving Langmuir in 1928 vir die eerste keer gebruik. Die vakgebied wat hom daarop toespits om plasmas as 'n gelaaide gas se interaksie met elektriese velde te bestudeer staan bekend as magnetohidrodinamika.