Plofstowwe

   Hierdie artikel behoort versmelt te word met Springstof.
Maak seker om die inhoud te skuif na die bladsy wat reeds aan Wikidata gekoppel is!
Indien altwee gekoppel is, sien hier.

Kleinskaalse toetsontploffing

Die beginsel van 'n ontploffing is baie eenvoudig. Dit is gebaseer op die snelle en dramatiese uitsetting van gas. 'n Plofstof is 'n stof wat 'n skielike en baie hoë druk op sy omgewing kan uitoefen deur die blitssnelle omskepping van die stof tot 'n warm gas. Op die oomblik van die ont­ploffing neem die gas nog dieselfde ruimte in beslag as die plofstof, maar die hitte van die ontploffing laat dit uitsit. Die druk raak te groot vir die houer waarin die gas is, en dit skiet uitmekaar.

Hoekom moet ons juis plofstof gebruik? Hoekom dan nie sommer enige ding wat kan brand nie? Plofstowwe het die unieke eienskap dat hulle teen 'n geweldige snelheid brand. Wanneer hulle in 'n beperkte ruimte verkeer, moet die gasse wat deur die ontbranding veroorsaak word, eenvoudig uitbars. Twee van die belangrikste eienskappe van plofstowwe is:

  1. Hulle bevat 'n stof, of 'n mengsel van stowwe, wat in gewone, normale omstandighede onveranderd bly, maar 'n snelle chemiese verandering ondergaan sodra dit aan die brand gesteek word.
  2. Tydens hierdie verandering ontstaan gasse, waarvan die volume, by die hoë temperatuur wat met die ontploffing gepaard gaan, baie groter is as die van die oorspronklike stof.

As ons hierdie eienskappe in syfers uitdruk, kan ons 'n idee vorm van die snelheid en omvang van ontploffings. Wanneer 'n plofstof ontbrand, kan die temperatuur van die gasse wat veroorsaak word, tot 6 000 °C styg (en dit is vyf keer so veel as die temperatuur waarby yster smelt). Die gasse sit sodoende teen 'n geweldige tempo uit, tot 10 000 keer hul oorspronklike volume op die oomblik van ontbranding. Iets moet dus padgee. Wanneer plofstof in steengroewe gebruik word, word gate in die rots geboor en die plofstof daarin geplaas. In hierdie geval moet die rots dus padgee. Wanneer plofstof as aandrywingsmiddel gebruik word, gee die koeël, projektiel of vuurpyl pad deur vorentoe of boontoe te beweeg.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy