Die Polinesiese Driehoek is 'n gebied in die Stille Oseaan met drie eilandgroepe as sy hoekpunte: Hawaii, Rapa Nui (Paaseiland) en Nieu-Seeland. Die gebied sluit die meeste Polinesiese eilande in behalwe Paaseiland, terwyl Nieu-Seeland net vanweë sy inheemse Polinesiese bevolking, die Maori's, by die driehoek ingereken word. In politieke opsig bestaan die eilande naas Nieu-Seeland uit drie onafhanklike state (Tonga, Samoa en Tuvalu) en nege oorsese gebiede wat oor verskillende grade van selfregering beskik.
Die talle eilandbeskawings in die uitgestrekte driehoek maak almal deel uit van die Polinesiese taalgroep, wat volgens taalwetenskaplikes as deel van die Maleis-Polinesiese taalfamilie geklassifiseer word en sy oorsprong in die Proto-Austronesiese tale van Suidoos-Asië het wat 5 000 jaar gelede gepraat is.
Naas hul tale deel die Polinesiërs ook 'n kulturele erfenis wat ou tradisies, kuns, godsdiens, sosiale strukture en wetenskappe insluit. Antropoloë neem aan dat alle moderne Polinesiese beskawings na 'n enkele proto-beskawing herlei kan word wat sowat 35 000 tot 40 000 jaar gelede deur Maleis-Polinesiese immigrante uit die huidige Indonesië in die Suidelike Stille Oseaan gevestig is.
Die huidige beskawings het hul oorsprong in die Groot Polinesiese Volksverhuising in die eerste eeue na Christus, en die kolonisasie van die eilandgroepe van die Polinesiese Driehoek – 'n gebied wat volgens sy oppervlakte groter is as die vastelande van Noord- en Suid-Amerika – met kano's word as 'n buitengewone seevaartprestasie beskou.
Die sewe Polinesiese hoofbeskawings is gevestig op:
Fidji het 'n Melanesiese beskawing wat nogtans beduidende Polinesiese invloede toon.