Rolls-Royce Merlin

Die Rolls-Royce Merlin

Die Rolls-Royce Merlin is 'n Britsvervaardigde vloeistofverkoelde V12-enjin met 'n kapasiteit van 27 liter. Die enjin is ontwerp deur Rolls-Royce en die eerste prototipes is reeds in 1933 voltooi. Die enjin was aanvanklik bekend as die PV-12 maar is later hernoem na die Merlin, soos die konvensie van Rolls-Royce was om hulle enjins na roofvoëls te vernoem.

Na verskeie modifikasies is die eerste produksiemodel in 1936 voltooi. Die eerste vliegtuie waarin die enjins geïnstalleer is, was die Fairey Battle, Hawker Hurricane en die Supermarine Spitfire. Die meeste van die enjins is ontwikkel vir die viermotorige Avro Lancaster bomwerper; tog het die Merlin bekend geword tydens die ontwikkeling van die Spitfire. As gevolg van die veranderende en dringende behoeftes van die Tweede Wêreldoorlog het die enjin drastiese ontwikkeling ondergaan wat sy vermoë en betroubaarheid aansienlik verbeter het.

Dit was een van die suksesvolste vliegtuigenjins uit die Tweede Wêreldoorlog-era, daar 50 verskillende weergawes deur Rolls-Royce gebou is in Derby, Crewe en Glasgow. Ford Brittanje het ook Merlinenjins in hulle fabriek, Trafford Park, naby Manchester gebou. Ná die oorlog is die Merlin vervang deur die Rolls-Royce Griffinenjin vir militêre gebruik, maar steeds vir gebruik in passasiers- en militêre vragvliegtuie vervaardig. Enjinproduksie is in 1950 gestaak nadat 160 000 eenhede afgelewer is. In die Verenigde State is die enjin ook onder lisensie gebou, waar dit as die Packard V-1650 bekend gestaan het, met 55 000 eenhede geproduseer. Die Packard was die voorkeurenjin vir die Amerikaanse P-51 Mustang-vegvliegtuig.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy