Rynse Sendinggenootskap

Gedenkplaat in Mettmann wat die stigting van die Rynse Sendinggenootskap gedenk.

Die Rynse Sendinggenootskap (RSG) het vanaf sy ontstaan in 1828 ontwikkel in een van die grootste instellings van sy aard in Duitsland. Dit het in 1971 met die Bethel Mission saamgesmelt as die Vereinte Evangelische Mission.

Sy werksaamhede was veral toegespits op Suider-Afrika: van 1828 meestal in Suid-Afrika, vanwaar sendelinge mettertyd noordwaarts beweeg het in die rigting van Suidwes-Afrika, wat hulle vanaf 1842 binnegegaan het. Sowat honderd jaar ná die begin van sy werk in Kaapland het die genootskap besluit hy het sy doel in Suid-Afrika bereik. Al sy bruin gemeentes is toe aan die NG Sendingkerk oorgedra, behalwe Wupperthal, wat verkies het om by die Morawiese kerk aan te sluit.

In Suidwes-Afrika het die genootskap sy werk voortgesit en was dit die voorloper van die Evangeliese Lutherse Kerk in die Republiek van Namibië en die Duitstalige Evangelies-Lutherse Kerk in Namibië (DELK). Die derde en verreweg die grootste Lutherse kerkgenootskap in Namibië, die Evangelies-Lutherse Kerk in Namibië (vroeër die Evangelies-Lutherse Kerk in Ovambo-Kavango), het nie uit die RSG se werk ontstaan nie, maar uit dié van die Finse Sendinggenootskap in die noorde van die land.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy