Seksueel oordraagbare infeksies (SOI's) word deur seksuele kontak van een persoon na 'n ander versprei. Hierdie infeksies veroorsaak seksueel oordraagbare siektes (SOS'e) wat algemeen voorkom, wat pyn kan meebring en wat onvrugbaarheid en sterfte kan veroorsaak indien dit nie behandel word nie. Van die algemene SOI's is gonorree, trigomoniase, chlamydia en sifilis. Genitale vratte word deur die menslike papilloomvirus veroorsaak en sommige subtipes hiervan is vir die meeste gevalle van servikale kanker verantwoordelik.
Die meeste SOS'e kan behandel en genees word.[1] Die verworwe immuniteitsgebreksindroom (vigs) en die seksueeloordraagbare virus Menslike Immuniteitsgebrekvirus (MIV) wat vigs veroorsaak, kan egter nie genees word nie. MIV kan deur seksuele kontak, deur bloed en deur 'n swanger vrou aan haar kind gedurende swangerskap, geboorte, of borsvoeding oorgedra word. Alhoewel MIV nie genees kan word nie, kan die uitwerking daarvan soms tydelik gestuit word.
Dit is belangrik om te onthou dat ander SOI's soos sifilis en vaginale sproei iemand se kans verhoog om MIV te kry of dit aan ander oor te dra. Mense met SOI's moet dus verkieslik so gou moontlik behandel word, en indien moontlik vir MIV getoets word en berading ontvang. Dit kan by alle primêregesondheidsorgklinieke en -sentrums gedoen word.
Mens kan gewoonlik nie sien dat iemand 'n SOI het nie; mense met SOI's, insluitend MIV, lyk gewoonlik nie siek nie. Dit kan van drie tot tien jaar duur voordat iemand met MIV simptome toon.
Die mees effektiewe manier om SOI's te voorkom is deur nie seks te hê nie.[2] Sommige vaksiene verlaag die risiko's van sekere infeksies soos hepatitis B en sommige soorte MPV. Veiliger sekspraktyke soos die gebruik van kondome en om een seksmaat te hê, kan ook die risiko verlaag.[1][2] Sekere infeksies kan ook effektief deur manlike besnydenis verminder word.[1]