Sinagoge

Interieur van die Spaanse Sinagoge in Praag
Binneruimte van die Portugese sinagoge in Amsterdam, skildery deur Emanuel de Witte, ca. 1680 – 'n sinagoge volgens Sefardiese tradisies
Jode op Jom Kippoer in die sinagoge, skildery deur Maurycy Gottlieb, 1878 – 'n sinagoge volgens Asjkenasiese tradisies

'n Sinagoge (vanaf Grieks: συναγωγή, synagōgē, letterlik: "byeenkoms"; Hebreeus: בית כנסת, beit knésset, letterlik: "huis van byeenkoms"; בית תפילה, beit t'fila, letterlik: "huis van gebed", of בית מדרש, beit midrasj, letterlik: "huis van uitlegging"; Jiddisj: שול, sjoel, letterlik: "skool"; Ladino: אסנוגה, esnoga, afgelei van Grieks, of קהל, kahal, afgelei van Hebreeus) is 'n gebou wat byeenkomste, gemeenskaplike gebedsdienste en onderwys binne die Jodedom huisves. Dit is die belangrikste inrigting in Judaïsme en het die gemeenskaplike aanbidding in Christendom en Islam beduidend beïnvloed.[1]

In watter gevalle in antieke geskrifte ná 'n sinagoge as plek van byeenkomste en die uitvoering van gebedsdienste verwys word, is in die navorsing ewe omstrede soos die tyd van die opkoms van die eerste sinagoges. Argeologiese en geskrewe bronne dui op die bestaan van sinagoges tydens die bestaan van die Tweede Tempel in Jerusalem, sowel in die Land Israel asook in die Joodse diaspora.[2]

In die sinagoge vind die daaglikse gebedsdienste, asook die viering van Sabbat en die Joodse feeste plaas. 'n Joodse gemeente word deur 'n rabbyn (aanspreekvorm: rabbi) gelei, wat die Talmoed en Tora bestudeer het. Die sinagoge beskik oor 'n Toraskryn (Hebreeus: אָרוֹן הָקׄדֶש, Arón haKodesj, letterlik: "skryn van die Heilige"), wat die gemeente se Torarolle huisves[3] en die rigting van Jerusalem aandui, die rigting waarin Jode bid.

Sinagoges is toegewyde ruimtes vir gebed, die lees en studie van beide Tanag (die hele Hebreeuse Bybel, insluitende die Tora) en Talmoed, asook byeenkoms; 'n sinagoge is egter nie noodsaaklik vir 'n gebedsdiens nie. Volgens die Halagá sal 'n gebedsdiens op enige plek uitgevoer kan word waar ten minste tien Jode (מִנְיָן, minjan, letterlik: "telling" of "getal"; afgelei van die werkwoord maná, מנה, "om te tel") byeenkom. Die daaglikse gebedstye kan ook alleen of met minder as tien mense wat byeenkom gedoen word. Volgens die Halagá is sekere gebede egter gemeenskaplik en vervolgens kan hulle slegs deur 'n minjan opgesê word. Die sinagoge se spesifieke rituele en liturgiese funksies vervang nie die lank gelede verwoeste Jerusalemse Tempel s'n nie.

Israeli's gebruik die Hebreeuse term בית כנסת, beit knésset. Asjkenasiese Jode gebruik tradisioneel die Jiddisje term 'שול, sjoel (verwant aan die Duitse Schule, in Afrikaans: "skool"). Romaniote en Sefardiese Jode gebruik veral die term kal (ontleen aan die Hebreeuse kahal, letterlik: "gemeente"). Spaanse Jode verwys na die sinagoge as sinagoga, terwyl Portugese Jode dit esnoga noem. Persiese Jode en sommige Karaïete Jode gebruik die term kenesa, afgelei van Aramees, en sommige Mizrachi-Jode noem dit kenis. Sommige "Gereformeerde", "Rekonstruksioniste" en "Konserwatiewe" Jode gebruik die term "tempel". Die Griekse woord sinagoge word in Afrikaans (Duits, Engels, Frans en die meeste Romaanse tale) gebruik om die voorafgaande moontlikhede te dek.[4]

  1. (en) Louis Isaac Rabinowitz, Michael Berenbaum, Fred Skolnik (2007). Synagogue. pp. 352–355. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  2. (de) Carsten Claußen (2002). Versammlung, Gemeinde, Synagoge. Das hellenistisch-jüdische Umfeld der frühchristlichen Gemeinden – Zugl.: Diss. Univ. München 1999. pp. 22–48. ISBN 3-525-53381-0. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)
  3. (en) Wischnitzer, Rachel, Bezalel Narkiss (2007). Ark. pp. 463–464. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  4. (en) Judaism 101: Synagogues, Shuls and Temples. Jewfaq.org.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in