Sirius is die helderste ster aan die naghemel en in die sterrebeeldGroot Hond (Canis Major). Met sy skynbare helderheid van -1,46, is dit byna twee keer so helder as Canopus, die tweede helderste ster. Die naam Sirius is afgelei van die Antieke Griekse Σείριος (seirios: "gloeiend" of "skroeier"). Dit word ook Alpha Canis Majoris (α CMa) genoem. Wat vir die blote oog soos ’n enkele ster lyk, is inderwaarheid ’n dubbelster – dit bestaan uit ’n wit hoofreeksster van spektraaltipe A1V, genoem Sirius A, en ’n dowwe witdwerg van spektraaltipe DA2, genoem Sirius B. Die afstand tussen die twee sterre wissel tussen 8,1 en 31,5 AE.[1]