Sjamanisme is ’n praktyk waarin die beoefenaar ’n ander werklikheid binnegaan om met die geesteryk kontak te maak en hierdie bosintuiglike energieë na sy eie wêreld te herlei.[1]
’n Sjamaan word beskou as iemand wat toegang tot en ’n invloed in die wêreld van goeie en bose geeste het. Hy raak gewoonlik in ’n beswyming tydens ’n ritueel en het ’n vermoë tot waarsêery en heling.[2] Die woord "sjamaan" kom waarskynlik uit die Toengoesiese taal Evenki van Noord-Asië. Volgens die Finse etniese taalkundige Juha Janhunen kom die woord in al die Toengoesiese tale voor en niks weerspreek die aanname dat dit ook in Proto-Toengoesies aangetref is en wortels het wat oor twee millenniums strek nie.[3] Die term het in die Weste bekend geword nadat Russiese magte die sjamaanse Kazanse Khanaat in 1552 verower het.
Die term "sjamanisme" is die eerste keer deur Westerse antropoloë gebruik as eksterne waarnemers van die antieke godsdiens van die Turke en Mongole, sowel as dié van die naburige Toengoesies- en Samojeeds-sprekende volke. Nadat Kaukasiese antropoloë die godsdienstradisies oor die wêreld heen waargeneem het, het hulle die term ook in ’n baie breë sin begin gebruik om onverwante magies-godsdienstige praktyke in ander dele van Asië en in Afrika, Australasië en selfs die Amerikas te beskryf omdat hulle geglo het hierdie praktyke stem ooreen.[4]
Die Roemeense godsdienshistorikus en filosoof Mircea Eliade het geskryf die eerste en miskien mins gewaagde definisie van hierdie ingewikkelde verskynsel sal wees: "sjamanisme = ’n tegniek van godsdienstige vervoering".[5] Sjamanisme gaan uit van die veronderstelling dat sjamane tussengangers of boodskappers tussen die mense- en die geestewêreld is. Sjamane behandel siektes na bewering deur die siel te heel. Deur traumas wat die siel/gees aantas te verlig, word die belans en heelheid van die individu se fisieke liggaam herstel. Die sjamaan besoek glo ook bonatuurlike ryke en dimensies om oplossings te kry vir probleme wat die gemeenskap teister. Hy werk hoofsaaklik in die geesteryk, wat op sy beurt die mensewêreld beïnvloed.[5]
Gelowe en praktyke wat as "sjamaans" gekategoriseer is, het die belangstelling van geleerdes op baie gebiede gewek, insluitende antropoloë, argeoloë, historici, godsdienskenners, filosowe en sielkundiges. Honderde boeke en tesisse is al oor die onderwerp geskryf en daar is ’n akademiese tydskrif wat aan die bestudering van sjamanisme gewy word. In die 20ste eeu het baie Westerlinge wat in die kultuuruitruilbeweging betrokke was, moderne magies-godsdienstige praktyke geskep wat beïnvloed is deur inheemse gelowe van oor die wêreld, soos neosjamanisme.[6] Dit het die ontwikkeling van baie neoheidense praktyke beïnvloed en daar was ook al beskuldigings van kulturele toeëiening,[7] uitbuiting en wanverteenwoordiging wanneer buitestanders probeer het om kulture te verteenwoordig waartoe hulle nie behoort nie.[8][9]