Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 2019


Suid-Afrikaanse politiek
Parlement van Suid-Afrika
Nasionale Vergadering
Nasionale Raad van Provinsies
President
Adjunkpresident
Ministers
Speaker van die Nasionale Vergadering
Opposisieleier
Politici
Politieke partye
Konstitusionele Hof
Hoogste Hof van Appèl
Hooggeregshof
Verkiesings

Die Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 2019 is 'n algemene verkiesing wat op 8 Mei 2019[1] in Suid-Afrika plaasgevind het. Dit was die sesde volledig-demokratiese verkiesing sedert die einde van apartheid in 1994.

Huidige president Cyril Ramaphosa het die regerende African National Congress gelei, terwyl dié party probeer het om sy meerderheidsstatus te behou en Ramaphosa 'n volle ampstermyn as president te verseker. Sy voorganger, Jacob Zuma, het op 14 Februarie 2018 as president bedank en kon nie vir 'n derde termyn in die amp aanbly nie omdat die Grondwet van Suid-Afrika 'n president beperk tot 'n maksimum van twee vyfjaartermyne.

Die verkiesing van die Nasionale Vergadering is gewen deur die regerende ANC, maar met 'n verminderde meerderheid van 57,50%, teenoor die 62,15% behaal in die algemene verkiesing van 2014. Dit was ook die ANC se laagste stemaandeel sedert die einde van apartheid in 1994. Die amptelike opposisie, die Demokratiese Alliansie (DA), se stemaandeel het van 22,23% tot 20,77% gedaal, terwyl die teenkapitalistiese Economic Freedom Fighters aansienlik gegroei het, van 6,35% tot 10,79%. Die Vryheidsfront Plus se steun het ook gegroei van 0,9% tot 2,38%, wat die hoogste stemaandeel vir die party is sedert 1994.

Agt van die nege provinsiale wetgewers is deur die ANC gewen. Die EFF het sy posisie as amptelike opposisie in Limpopo en Noordwes behou, terwyl die party die Demokratiese Alliansie in Mpumalanga as amptelike opposisie vervang het. Die DA het 'n tweede plek behaal in vyf provinsies wat deur die ANC gewen is. In KwaZulu-Natal het die Inkatha Vryheidsparty die DA as amptelike opposisie vir die eerste keer sedert 2014 vervang en tot 3,88% steun op nasionale vlak gegroei. In die Wes-Kaap, die enigste provinsie wat nie deur die ANC gewen is nie, het die DA se steun van 59,38% tot 55,45% gedaal.

  1. Joubert, Jan-Jan (7 Februarie 2019). "Stemdag is 8 Mei". Maroela Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Mei 2020. Besoek op 19 April 2019.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy