Supernova

SN 1994D (die helder punt links onder), ’n tipe Ia-supernova in die sterrestelsel NGC 4526.

’n Supernova is die ontploffing van ’n ster wat vir ’n tyd helderder is as die hele sterrestelsel waarin dit voorkom. Dit straal soveel energie uit as wat die Son, of enige gewone ster, deur sy hele bestaan uitstraal voordat dit oor verskeie weke of maande wegkwyn.[1] Die uiters helder uitbarsting skiet die meeste van die ster, of al die ster, se materiaal weg[2] teen ’n spoed van tot 30 000 km/s (10% van die ligsnelheid), en dit veroorsaak ’n skokgolf[3] in die omringende interstellêre medium wat ’n ring van gas en stof laat uitkring, en dit word ’n supernova-oorblyfsel genoem.

In hierdie hoogs versnelde kunstenaarsvoorstelling word ’n paar supernovas gewys in verafgeleë sterrestelsels. Elk van die ontploffings is vir ’n kort ruk helderder as die hele sterrestelsel waarin dit voorkom.

Supernovas stel meer energie vry as novas. Nova beteken "nuwe" in Latyn en verwys na wat lyk soos ’n helder nuwe ster in die ruimte; die voorvoegsel "super-" onderskei supernovas van gewone novas, wat baie dowwer is.

Supernovas kan op twee maniere gevorm word: deurdat die kern van ’n baie swaar ster inplof onder sy eie swaartekrag, of deurdat ’n witdwergster materiaal van ’n metgeselster aantrek totdat dit die Chandrasekhar-limiet oorskry en ’n kernontploffing ondergaan. Anders as wat die naam aandui, is ’n nova of supernova dus eintlik die gevolg van ’n dooie ster, en nie ’n nuwe ster nie.

In die eerste geval veroorsaak die inploffing van die kern ’n skokgolf wat die res van die ster laat ontplof; laasgenoemde vorm ’n ring van gas wat ’n supernova-oorblyfsel vorm. ’n Bekende voorbeeld hiervan is die oorblyfsel van die supernova SN 1604. Supernova-ontploffings is die hoofbron van die swaarder elemente in die heelal. ’n Groot deel van die kalsium en yster in ons liggaam is byvoorbeeld miljarde jare gelede deur supernovas vrygestel. Supernovas stuur hierdie swaar elemente in die interstellêre medium in en verryk so die molekulêre wolke, waar stervorming plaasvind. Hierdie verrykingsproses het die samestelling van die Sonnestelsel 4,5 miljard jaar gelede bepaal, en daarmee saam die chemiese boustene vir lewe op aarde.

Die mees onlangse supernova in die Melkweg wat regstreeks waargeneem is, was Kepler se ster van 1604 (SN 1604); die oorblyfsels van twee meer onlangse supernovas is ná die tyd ontdek.[4] Waarnemings in ander sterrestelsels dui daarop dat ’n supernova gemiddeld sowat drie keer per eeu in die Melkweg moet plaasvind, en dat enige sodanige supernova amper vir seker met moderne sterrekundige instrumente sigbaar behoort te wees.[5] Supernovas speel ’n groot rol in die verryking van die interstellêre medium met swaarder elemente.[6] Die skokgolwe wat deur supernovas veroorsaak word, kan ook stervorming aanhelp.[7][8]

  1. Giacobbe, Frederick W. (2005). "How a Type II Supernova Explodes". Electronic Journal of Theoretical Physics. 2 (6): 30–38. Bibcode:2005EJTP....2f..30G.
  2. Heger, Alexander; Fryer, Chris L.; Woosley, Stanford E.; Langer, Norbert; Hartmann, Dieter H. (2003). "How Massive Single Stars End Their Life". Astrophysical Journal. 591: 288. arXiv:astro-ph/0212469. Bibcode:2003ApJ...591..288H. doi:10.1086/375341.
  3. Schawinski, Kevin; et al. (2008). "Supernova Shock Breakout from a Red Supergiant". Science. 321 (5886): 223–226. arXiv:0803.3596. Bibcode:2008Sci...321..223S. doi:10.1126/science.1160456. PMID 18556514.
  4. Reynolds, Stephen P.; et al. (2008). "The Youngest Galactic Supernova Remnant: G1.9+0.3". The Astrophysical Journal Letters. 680 (1): L41–L44. arXiv:0803.1487. Bibcode:2008ApJ...680L..41R. doi:10.1086/589570.
  5. Adams, Scott M.; Kochanek, Christopher S.; Beacom, John F.; Vagins, Mark R.; Stanek, Krzysztof Z. (2013). "Observing the Next Galactic Supernova". The Astrophysical Journal. 778 (2): 164. arXiv:1306.0559. Bibcode:2013ApJ...778..164A. doi:10.1088/0004-637X/778/2/164.
  6. Whittet, Doug C. B. (2003). Dust in the Galactic Environment. CRC Press. pp. 45–46. ISBN 0-7503-0624-6.
  7. Krebs, J.; Hillebrandt, Wolfgang (1983). "The interaction of supernova shockfronts and nearby interstellar clouds". Astronomy and Astrophysics. 128: 411. Bibcode:1983A&A...128..411K.
  8. Boss, A. P.; Ipatov, S. I.; Keiser, S. A.; Myhill, E. A.; Vanhala, H. A. T. (2008). "Simultaneous Triggered Collapse of the Presolar Dense Cloud Core and Injection of Short-Lived Radioisotopes by a Supernova Shock Wave". The Astrophysical Journal Letters. 686 (2): L119–L122. arXiv:0809.3045. Bibcode:2008ApJ...686L.119B. doi:10.1086/593057.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in