Tate-LaBianca-moorde

Die Tate-LaBianca-moorde was 'n reeks moorde deur lede van die Mansonbende van 8-10 Augustus 1969 in Los Angeles, Kalifornië, in opdrag van Tex Watson en Charles Manson. Vyf mense is in die nag van 8 op 9 Augustus vermoor: die swanger aktrise Sharon Tate (wie se fetus dood is weens die aanval) en haar gaste Jay Sebring, Abigail Folger, Wojciech Frykowski en Steven Parent. Die volgende aand het die bende ook die uitvoerende beampte van 'n supermark, Leno LaBianca, en sy vrou, Rosemary, in hulle huis in die Los Feliz-deel van Los Angeles vermoor.[1][2][3]

Op die nag van 8 op 9 Augustus het vier lede van die Mansonbende – Watson, Susan Atkins, Patricia Krenwinkel en Linda Kasabian – van hulle woonplek, Spahn Ranch, gery na Cielorylaan 10050 in Benedict Canyon, die huis van Sharon Tate en haar man, die regisseur Roman Polanski. Die groep het Tate, wat agt en 'n halwe maande swanger was, vermoor asook haar gaste, Jay Sebring, 'n haarkapper van die sterre; Abigail Folger, 'n koffie-erfgenaam; haar kêrel, Wojciech Frykowski, 'n aspirantdraaiboekskrywer; en Steven Parent, 'n 18-jarige besoeker. Polanski het in Europa aan 'n rolprent gewerk. Manson was 'n kultusleier en aspirantmusikant wat 'n kontrak probeer kry het by die musiekvervaardiger Terry Melcher, wat die huis voorheen gehuur het.

Die volgende nag het dié vier mense, asook Manson, Leslie van Houten en Steve "Clem" Grogan, nog twee moorde gepleeg. Manson het na bewering vir hulle gesê hy sal hulle "wys hoe dit gedoen word".[4]:176–184, 258–269[5] Nadat hulle verskeie opsies oorweeg het,[4]:258–269 het Kasabian met die groep na Waverlyrylaan 3301 in Los Feliz gery, waar die LaBiancas gewoon het.[4]:22–25, 42–48 Manson is daar weg saam met Atkins, Grogan en Kasabian. Watson, Krenwinkel en Van Houten het die egpaar in die vroeë oggendure van 10 Agustus vermoor.

  1. Romano, Aja (7 Augustus 2019). "The Manson Family murders, and their complicated legacy, explained". Vox. Besoek op 28 Maart 2021.
  2. "Sharon Tate Autopsy" (PDF).
  3. "People V. Manson".
  4. 4,0 4,1 4,2 Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named bugliosi
  5. Watson, Charles. "Will You Die For Me?, Hoofstuk 15". Abounding Love Ministries. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 April 2007. Besoek op 13 Julie 2019.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy