Vaatbundel

Vaatbundels word in die stingels, blare, wortels en blomme van varings en saadplante aangetref. Gewoonlik bestaan dit uit 'n hout en 'n basgedeelte. Die belangrikste funksie van die vaatbundels is die vervoer van voedingstowwe en uitskeidingsprodukte van en na alle dele van die plant.

Bykomstig verleen dit ook stewigheid. Die vaatbundels vorm 'n fyn vertakte netwerk van geleidende buise in die hoër plante. Dit bestaan uit 'n houtgedeelte (xileem) en 'n basgedeelte (floëem). In die xileem kom houtvate (trageas) en/of trageïede voor. Trageas is lang, uitgerekte buise van dooie selle waarvan die tussenwande verdwyn het (selfusie). Ware trageas kom by net die bedeksadiges voor.

Die trageïede bevat meer dwarswande en het dikwels ʼn lewende selinhoud. Albei strukture is vir die vervoer van water en die opgeloste stowwe daarin verantwoordelik. Die basgedeelte bestaan uit sifvate (lang, uitgerekte buise met 'n poreuse tussenwand, die sifplaat) en begeleidende selle. Die sifvate is verantwoordelik vir die vervoer van suiker en ander organiese stowwe van die blare na ander dele van die plant. Sowel in die hout- as in die basgedeelte kom bas- en houtvesels voor, dit is selle met 'n spesifieke ondersteuningsfunksie.

Dikwels kom daar ook nog selle met onverdikte wande voor wat dien vir die berging van sekere stowwe. By die naaksadige en tweesaadlobbige plante word die hout- en basgedeelte van mekaar geskei deur ʼn ring van kambiumweefsel, wat na buite steeds basselle en na binne voortdurend houtselle (vesels en vate) vorm, waardeur diktegroei moontlik is. In die vaatbundels kom loodreg op die lengtelopende hout en sifvate murgstrale voor, wat vir die vervoer in 'n horisontale rigting verantwoordelik is. Dit bestaan meestal uit sagte, nie-verhoute selle en soms ook (by naaldbome byvoorbeeld) uit trageïede.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy