Vergasser

Bendix-Technico (Stromberg) 1-vat valstroom vergasser model BXUV-3, met naam

Die vergasser is 'n toestel wat lug en brandstof meng vir 'n binnebrandenjin. Vergassers kan nog steeds aangetref word in klein enjins en in ouer of gespesialiseerde voertuie. Die meeste voertuie word egter deesdae toegerus met brandstofinspuitingstelsels eerder as vergassers. Die oorgrote meerderheid motorfietse word egter steeds van vergassers voorsien as gevolg van die laer gewig en koste daarvan. Ten spyte daarvan is die nuwe tendens om nuwe motorfietsmodelle ook van brandstofinspuiting te voorsien.

Die vergasserenjin het 'n enkele vergasser, maar sommige hoë werkverrigtingsenjins (gewoonlik met meer as 4 silinders) gebruik veelvuldige vergassers. Ouer enjins het stygstroomvergassers gehad waar die lugvloei van onder die vergasser ingevloei het en die vergasser aan die bokant verlaat het. Die voordeel van hierdie konfigurasie is dat stolling van die enjin deur 'n oorlading brandstof vermy is deurdat enige brandtofdruppels terug in die vergasser sou inval eerder as om in die inlaatverdeelpyp te val. Dit het dit ook moontlik gemaak om 'n oliebad as 'n lugfilter te gebruik. Die lug is deur 'n poel olie onder 'n gaas onder die vergasser gesuig en was 'n baie doeltreffende stelsel gewees voor die ontwikkeling van papierfilters. Deesdae is die meeste valstroomvergassers met die lugvloei na onder of systroom met 'n sywaartse lugvloei. Klein skroefaangedrewe vliegtuigenjins asook ander klein enjins, soos aan grassnyers, gebruik nog stygstroomvergassers.

Die vergasser werk op die Bernoulli-beginsel: die feit dat hoe vinniger lug beweeg, hoe laer word die druk daarvan [1]. Die versnelklep of versneller beheer nie die vloei van brandstof nie maar eerder die lugvloei na die vergasser. Hoe vinniger die lug vloei hoe meer brandstof word in die vergasser ingetrek vanweë die gedeeltelike vakuum wat ontstaan.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy