In meganika van materiale, is Young se modulus (E) 'n mate van die styfheid van 'n materiaal. Dit staan ook as die elastisiteitsmodulus bekend (alhoewel Young se modulus streng gesproke slegs een van verskeie elastisiteitsmodulusse soos die massamodulus en die skuifmodulus is). Dit word gedefinieer as die verhouding tussen spanning en vervorming ("stress and strain") in die elastiese gebied van die materiaal, waar Hook se wet geld (vir lineêre materiale).[1]
Dit kan eksperimenteel bepaal word vanaf die helling (gradiënt) van 'n spanning-vervormingskromme wat geskep word tydens spanningstoetse op 'n eenvoudige monster van die materiaal.
Young se modulus is vernoem na Thomas Young, die 18de eeuse Britse wetenskaplike. Die konsep is egter reeds in 1727 deur Leonard Euler ontwikkel en die eerste eksperimente wat die begrip van Young se modulus in sy huidige vorm gebruik het is deur die Italiaanse wetenskaplike Giordano Riccati in 1782 uitgevoer – wat Young se werk met sowat 25 jaar vooruitgegaan het.[2]