Kantate

'n Kantate is 'n vokale genre vir een of meer stemme met instrumentale begeleiding wat uit die barok dateer, bestaande uit 'n opeenvolging van resitatiewe, arias, duette en kore.[1][2] Dit mag of sekulêr of gewyd van aard en funksie wees, en kan daarby ook 'n liriese, allegoriese of dramatiese inslag hê.[3] Verder kan kantates op 'n verskeidenheid van maniere gekonseptualiseer word; vanaf intieme kleinskaalse werke met min sangers en beperkte begeleiding (soms kamer-kantates genoem) tot en met grootskaalse werke met kore en orkestrale begeleiding, wat gekomponeer is om spesifieke gebeurtenisse te herdenk.[4]

Die kantate vind sy oorsprong in die 17de eeu in Italië, waar die term oorspronklik gebruik is om onderskeid te tref tussen 'n stuk musiek wat gesing word (kantate) teenoor 'n stuk musiek wat op instrumente gespeel word (sonate).[5] Die heel eerste gebruik van die term "kantate" was waarskynlik in 'n 1589-publikasie, genoem Cantata pastorale fatta per Calen di Maggio in Siena, wat die 1586 huwelik van Cesare d'Este en Virginia de' Medici herdenk.[6]

Aan die begin van die 17de eeu in Italië was die kantate vir eers 'n nederige kunsvorm, bestaande uit 'n opeenvolging van kontrasterende afdelings, wat dan teen die 18de eeu ontwikkel het in aparte bewegings (gewoonlik twee arias, elkeen voorafgegaan met 'n resitatief).[7] Alhoelwel sommige kantates van hierdie era vir twee of drie stemme gekomponeer was, is die meeste van hulle vir 'n solo-stem gekomponeer.[8] Tot en met die einde van die 17de eeu was die kantate hoofsaaklik 'n sekulêre kunsvorm. Dit is eers later, gedurende die 18de eeu in Duitsland, wat die sogenaamde kerkkantate 'n belangrike deel van Lutherse kerkmusiek en musiek in die breë geword het.[9]

Die begeleidings van kantates het gedurende die baroktydperk meer kompleks geword. Waar dit eers uitsluitlik deur kontinuo-instrumente begelei was, het die begeleidings mettertyd orkestraal geword, insluitende obbligaatinstrumente.[10]

Behalwe vir opera en oratorium verteenwoordig die kantate die algemeenste en belangrikste tipe vokale musiek van die baroktydperk.[11] Hoofsaaklik sekulêre kantates het gevolglik ook versprei na Frankryk, Spanje en Engeland gedurende die 18de eeu. Nietemin het hierdie musikale genre gedurende die middel van daardie eeu afgeneem, sodat dit teen die begin van die 19e eeu 'n baie minder belangrike genre geword het.[12] In die laaste honderd jaar is daar relatief min werke wat kantates genoem is, en dan werklik net omdat hulle werke vir koor en orkes is.[13]

Die belangrikste kantates wat vandag nog uitgevoer word, is die kantates deur J.S. Bach, wat oorwegend gewyde werke met Duitse tekste is, bedoel om tydens Lutherse kerkdienste gesing te word.[14]

  1. Randel, bl. 131.
  2. Timms et. al., bl. 8.
  3. Randel, bl. 131
  4. Randel, bl. 131.
  5. Randel, bl. 131.
  6. Timms et. al., bl. 9.
  7. Timms et. al., bl. 8.
  8. Timms et. al., bl. 8.
  9. Timms et. al., bl. 8.
  10. Timms et. al., bl. 8.
  11. Timms et. al., bl.8.
  12. Timms et. al., bl. 8.
  13. Timms et. al., bl.8.
  14. Randel, bl. 131.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy